Lag en Plesier Afrikaanse Stories

Lag en Plesier Afrikaanse Stories Afrikaanse stories raak verlore laat ons dit bewaar

24/12/2022

‘n Mooi Kersfees Storie

Verlede jaar, besluit Gert en Lien dat aangesien hulle kinders elkeen hulle eie koers gaan inslaan gedurende Kersfees, hulle nie stoksielalleen by die huis gaan sit nie. Gert wou weg na waar dit stil is. Geen blink liggies en goeters nie. Net die stilte.

'n Paar dae voor Kersfees het ons gaan groet en geskenke geruil. Ons sou hulle eers weer na Nuwejaarsdag sien.

Met hulle terugkeer het ons gaan hallo sê en voorspoedige Nuwejaar en alles.

"Nou waar was julle toe?" wou ek nuuskierig weet.

"Noord-Kaap" sê Gert.

"Ek het nie geweet julle het familie daar nie?" vis ek verder uit.

"Nie gehad nie, maar nou het ons."

"Nou maar hoe werk dit?" hou ek vol.

"Jy't ook geen einde nie. Sal nou aanhou karring en karring tot jy jou storie het," sê Gert.

"Maar jy weet mos. Ek dood oor 'n storie."

"Nou maar fyn. Sit terug en luister."

Ek is kinderlik bly oor die vooruitsig van 'n storie.

"Toe ek en Lien hier weg is, het ons regtig nie 'n idéé gehad waarheen ons nou eintlik wil gaan nie. Ons het by Jasmyn gestop vir ontbyt toe Lien sê sy wil Laeveld toe. Maar ek het gesê nee, daar is óók te veel mense. Ek soek stilte.

"'Nou maar dan moet jy woestyn toe,' sê sy toe half oprukkerig. 'Die kans is goed dat dit net ek en jy sal wees', en sy skud haar hare. As sy so maak moet ek weet: sy is nou krapperig.'

"Ek het haar aangekyk. Jy is geniaal, weet jy, sê ek vir haar.

"'Ek weet' kom dit selfvoldaan. Haar stemming het verbeter.

"'Nou waar sal ons dan heengaan?' wou sy weet.

"Nee, ek weet nie. Ons ry maar soos wat die stuurwiel draai en die pad ons vat.

"Na ontbyt klim ons weer in die wa en ek draai Rustenburg se kant toe. Op Lichtenburg draai ons toe weg Vryburg se koers in. Daar het ons die aand geslaap. By die gastehuis op Vryburg, vertel iemand vir ons van die pad al op die Botswanagrens langs, die Molopo in tot by Van Zylsrus. Dis 'n tweespoorpad maar onbeskryflik mooi sê die man.

"Die volgende oggend na ontbyt gryp ons die pad. Later is ons van die teer af op 'n grondpad. Die grondpad word toe wel later 'n tweespoorpaadjie, en die wêreld is vreeslik mooi. Die mooiste kameeldorings en af en toe 'n koedoe of twee, drie en selfs 'n troppie gemsbokke. Deur plase en seker 'n honderd hekke moes ek iewers verkeerd afgedraai het, want toe raak die paadjie amper weg.

"Ons plan was om op Van Zylsrus te gaan slaap soos wat die ou op Vryburg vir ons beduie het, maar skielik het dit na 'n bitter skrale moontlikheid gelyk. Ons was in ons kanon in verdwaal. Die son was besig om te sak. Dit was Oukersdagaand, en ons was in die middel van nêrens, maar vreemd genoeg, dit was asof daar 'n groot kalmte oor my gekom het. Ek het vir Lien gekyk.

"'Dis lekker hier', sê sy toe. 'Ons slaan ons tentjie sommer net hier op en ons slaap net hier in die veld onder die sterre. Hier is nou so min mense, dis wraggies net ons twee.' Sy giggel avontuurlik.

"Ons klim uit die wa uit en Lien kom staan in my arms. 'Kyk hoe mooi is die sonsondergang' sê sy. Lank het ek so gestaan met haar kop teen my bors totdat die son agter die horison weggesak het. Om ons het die nag begin wakker word. Ons het nog so gestaan, toe ons 'n vreemde geluid hoor. So 'n klingel-klingel geluid. Terwyl ons nog rondkyk kom daar 'n donkiekarretjie om die draai.

"'Ek sê vir die vrou ek moet loop kyk. Ek d**k ek hoor iets,' sê die oompie op die bankie toe die karretjie langs ons tot stilstand kom.

"Ek draai om en kyk na die oompie. Rateltaai en voos gebrand deur die son sit hy daar.

"'Kom, meneer-hulle kan nie hier in die vlak slaap nie. Die vrou het al klaar julle kamer reggemaak.' Dis duidelik dat die oom nie nee vir 'n antwoord gaan vat nie.

"'Sal Oom omgee as ek saam met Oom ry? Ek het nog nooit op 'n donkiekarretjie gery nie,' vra Lien toe opgewonde.

"'Alte seker Mevrou. Wag ek help vir Mevrou,' sê die oom en help vir Lien tot op die bankie. Stadig kruie ons daar met die slingerpaadjie aan tot by die huisie. Lien waai vir my van die bankie af. Sy is so opgewonde soos 'n skoolkind.

"Die huisie is skoon en netjies op 'n eenvoudige manier. Die tante kom op die stoep uit toe ons stilhou.

"'Maar welkom hier by ons, Hennerik vat die meneer-hulle se goed en sit dit in die spaarkamer kom nader die ketel kook al,' sê die tante alles in een asem.

"Toe ons in die kombuis instap, ruik ek die geurig gekookte kos, en die brandende paraffienlamp op die wit geskropte tafel.

"'Kom ek wys vir Mevrou waar die badkamer is Mevrou wil seker eers bietjie hande en gesig was voor ek koffie skink.' Weer alles in een asem.

"Ek help die oompie om ons bagasie kamer toe te dra. 'Maar hoe is dit dat die tante die kamer so vinnig reggemaak het,' wil ek by die oompie weet.

'Nee, Meneer sien, die vrou maak elke jaar so 'n week voor Kersfees al die kamer reg. Maar ek sal later vir Meneer die storie vertel. Kom was eers hande en dan gaan drink ons koffie.'

"Later, toe ons aan tafel sit, merk ek dat die tante nie net vir twee gekook het nie. Dit lyk asof sy ons verwag het. 'Hoe is dit dan dat dit vir my lyk asof tante ons hier verwag het', vra ek nuuskierig.

"'Maar natuurlik het ek mense verwag die Liewe Heer stuur elke jaar vir ons mense vir Kersfees Hy het nog nie een jaar oorgeslaan vandat die kinders hier weg is stad toe nie ek het Hom so gevra en Hy het so gedoen.' Punte en kommas bestaan nie vir die tante nie. "'Hoe dan so, tante?' wil ek weet.

"'Nee meneer sien ons is eintlik afstammelinge van die Griekwas wat vroeër jare hier deurgetrek het en onse kinders het nooit die liefde vir die wêreld gehad soos ons dit het nie en jare terug het hulle besluit hulle is moeg vir die wêreld met sy hitte en droogtes en goed en op 'n dag het hulle net besluit om weg te trek en tot nou toe het ons nog nie weer 'n woord van hulle gehoor nie dis vanjaar al vyftien jaar dat hulle weg is.'

"Die tante skep asem. Die oom vat oor. 'Net voor die eerste Kersfees nadat die kinders hier weg is, sê ek vir die vrou, ek sê Ma, ek kan nie hierdie jaar Kersfees hou nie. Die kinders is weg en dis net ons twee en my hart is seer en sal net seerder word hier oor die Groot Dae. Wat gaan ons maak?'

"'Sy sê toe, Hennerik, moet nou nie daaroor wakker lê nie ek het reeds vir onse Hemelse Vader gevra om vir ons mense te stuur vir Kersfees more gaan ek die spaarkamer begin regmaak en jy moet kom hjelp.'

"'Dit was 'n week voor Kersfees. Die volgende dag het die stof gestaan soos die vrou alles begin regmaak het, en ek het angstig gehoop dat die Vader vir haar gehoor het en dat sy nie teleurgestel sal wees nie.'

"Die tante val in. 'Daardie eerste jaar het die mense gekom ook op Oukersdag net soos meneer-hulle ook geverdwaal ek het kant en klaar gekook gehad toe hulle hier aanland daar was 'n kleintjie ook by ek was so bly Hennerik het gesê die Here het ons nie alleen gelos nie.'

"Die eenvoud, geloof, vertroue en die opregtheid van die mense het my aangegryp," vertel Gert.

"Nadat ons geëet het, het die oompie die dankgebed gedoen en toe strammerig opgestaan. 'Sit julle net so. Ek gaan net die Bybel haal.'

"Toe die oom terug kom, gee hy vir my die Bybel aan.

"'Sal Meneer asseblief vir ons lees. Nie ek of die vrou het enige gelerendheid nie en al wanneer ons die Bybel uithaal is wanneer hier mense kom wat dan vir ons lees. Verder sê ek maar die stukkiekies op wat so met die jare saam in my kop vasgesteek het, of wat ek nog in die Sondagskool uit my kop moes geleer het. My pa-hulle het ons nie skool toe kon stuur nie, maar ons moes elke Sondag kerk toe gaan en daarna was dit Sondagskool.'

"Ek maak die Bybel oop. 'Wat moet ek vir oom-hulle lees?'

"'Lees vir ons asseblief die geboorteverhaal. Soos wat dit in Lukas staan.'

"'Ja, asseblief,' kom dit van die tante, 'dis baie mooier daar as in die ander boeke van die Bybel.'

"Terwyl ek rondblaai, kry ek die reuk van mottegif. Hier en daar is 'n foto'tjie tussen die blaaie gebêre. Ek begin lees.

"Die kombuis het amper 'n heilige plek geword. 'n Katedraal. Ek lees van Maria en die Kind. Van die stal en die krip. Van die herders en die wyse manne. Die stil toe ek die Boek toemaak.

"Die oom sit met sy hande in eerbied gevou. Deur die kombuisvenster het die volmaan groot en wit oor die kameeldorings gelê. Saggies begin die tante Stille Nag te sing. Haar oumensstem is krakerig, maar vir ons het dit die klank van 'n nagtegaal gehad. Dis asof van iewers af die engele saamgesing het. Die oom het met sy dreunstem ingeval en Lien kort na hom.

Ek het probeer, maar die knop in my keel was te groot. Ek kon net fluister. Ek het daar lief geword vir hierdie twee eenvoudige, maar opregte mense.

"'Ek wens daar was iets wat ons vir die twee oues kon doen,' sê ek later vir Lien toe ons in die bed lê.

"'Hulle het alles wat hulle nodig het,' sê Lien. 'Wêreldsgoed beteken vir hulle niks nie. As ons iets wil doen, moet ons bid en vra dat die Here hulle kinders sal laat terugkom.'

"Daar langs die bed het ons toe gekniel en vir die Here gevra om tog ook aan die oumense se hartseer te d**k en hulle kinders te laat terugkom. Met 'n tevrede gemoed het ons die kers doodgeblaas en aan die slaap geraak.

"Die oumense was baie bly toe ons vra of ons 'n paar dae langer kan bly. Ons kon eenvoudig nie genoeg van hulle gasvryheid kry nie. Ons het saam met hulle lang ente met die donkiekarretjie in die veld gery, en dit was veral vir Lien baie lekker. Dit het my laat besef hoe leeg ons lewens regtig geword het. As ons kuiermense kry, dan vat ons hulle na een of ander Mall of 'n ding toe, maar hier is 'n rit op 'n donkiekar in die veld 'n sielelafenis.

"Oujaarsdag middag, toe ons terugkom van die veld af, sien ons die vreemde kar onder die kameeldoring staan.

"'Haai kyk pa ons het nog mense gekry is dit nou nie vir jou wonderlik nie?'

"Dis toe die figuur om die hoek van die huis kom dat die oom die teuels styf pluk. Die donkies het nog nie eers behoorlik stilgestaan nie, of die oom spring af en storm vooruit.

"'Hennerik! Hennerikkie my seun!' Die oom huil.

"'Pa!' roep die man van die hoek af. 'Pa!' Toe is hulle in mekaar se arms. Die pa en sy seun.

"Die tante kom ook by. 'Hennerik . . . Hennerikkiekie, is dit regtig jy, my kjind?' Die tante se vreugde ken geen perke nie. Hulle omhels mekaar.

"'Wag Ma, Pa, hier is nog mense.' Toe sien ons die ander mense wat om die hoek kom.

"'Freek!' roep die oom. 'Freek, ag my seun. Ek is so bly. Die Here is vir ons goed. En die ander? Wie is hulle?'

"'Pa, Ma, ontmoet ons vrouens en julle kleinkinders.'

"Toe het daar voor ons oë 'n ding gebeur wat in my geheue ingegraveer is en wat ek sal onthou tot die dag van my dood," sê Gert.

"Die oom sak daar op die warm kalaharisand op sy knieë neer en bid 'n dank- en lofgebed waarvan ek die gelyke nog nie gehoor het nie. Soos 'n Abraham van ouds. Op sy knieë met sy hande na bo uitgestrek.

"Ek en Lien het na mekaar gekyk. Trane het in Lien se oë geblink. Ons het op heilige grond gestaan. Ons gebed is verhoor. Die Here het vir ons gegee presiés wat ons van Hom gevra het."

(Skrywer onbekend)

02/12/2022

Deur Hennie Lintvelt
As yswind oor die sneeu die koud deur ribbes jaag
en die modderplek se reenweer aan my siel se ankers saag,
vat die heimwee en verlange my gedagtes ver ver trug
na die Boesmanlandse vlaktes met sy skoon en blou blou lug.
Dan verlang jy na bekende goed soos die droogte, stof en son
en die saamwees met jou eie soort wat jou binnekant laat blom.
Na wye kalm vlaktes van ‘n EIE Vaderland
se jagveld waar ‘n ntooihout vuur se rook jou neusgat brand.
As die natweer jou in huis vaskeer vir dae lank aaneen,
omring deur al jou huismense maar nietemin aleen.
En jou seunskind maak die deur oop, die kop so skeef gehou
dan wil hy weet, OP ENGELS, waarom huil sy pa dan nou.

En jy tel hom op jou knie op en begin hom te vertel
Hy kan nog nie verstaan nie, maar eendag sal hy wel.
Vertel hom van sy wortels, ‘n land wat eens ons s’n was
waar ons gebloei, geblom het en ons toekoms seker was.
Van sy volk se eie helde, van De Wet en De la Rey
Verwoed, Malan en Strijdom en van leiers wat kon lei.
Van sy volk se staalsterk vrouens wat so honderd jaar gelee
Bitter goed moes deurmaak, soms die hoogste prys moes gee,
wat vir vryheid duur betaal het dog dit was van korte duur
toe verraad se seker kanker weer ‘n end bring aan Ons Uur
Vertel vir hom van hensoppers met ruggraat sonder staal
Want ons volk se grootste vyand praat ons mooiste eie taal
Vertel hom hoekom ons nou hier so ver van daai land bly
Vertel vir hom van Meyer en De Klerk se konkelry

Nou het als ge-verander, die land ons s’n nie meer
Waar ateis en kommunis op hul manier regeer
Nou waai daar in daai blou blou lug ‘n volks onvriendlik vlag
En vir daai nuwe basterlied het my hart geen ontsag.
Dan liewer hier in vreemde in die groulug en die kou
Ver van my hartland mense aan ‘n nuwe lewe bou.

18/10/2022

LEES hierdie, dis wonderlik! 💛

"As veearts, is ek geroep om die tien jaar oue Ierse wolfhond Belker te help om sag heen te gaan.

Ron en Lisa het gesê dit sal goed wees as die sesjarige Shane ook die ondervinding kan meemaak en dat hy dalk iets daaruit sal leer.

Die seuntjie het gelyk of hy Belker se heengaan sonder moeite of verwarring aanvaar.

Ons het almal ‘n paar oomblikke bly sit en ged**k hoe jammer dit is dat diere korter lewe as mense. Shane het skielik gesê,
‘Ek weet hoekom.’

Ek het nog nooit ‘n meer vertroostende verduideliking gehoor nie.

Hy het gesê:
‘Mense word gebore sodat hulle kan leer hoe om goed te lewe soos om almal altyd lief te hê, nê? Honde weet reeds hoe om dit te doen en daarom hoef hulle nie so lank hier te bly nie.’

Leef eenvoudig
Gee liefde vryelik..
Gee werklik om.
Praat vriendelik.

Onthou, as ‘n hond jou leermeester was, sou jy dinge geleer het soos:
· As iemand wat jy liefhet tuiskom, hardloop om hulle te groet;
· Geniet die vars lug en die wind in jou gesig ekstaties;
· Neem af en toe ‘n slapie;
· Strek voordat jy opstaan;
· Hardloop, baljaar en speel daagliks;
· Gedy op aandag en laat mense aan jou raak;
· Moenie byt, as ‘n grom genoeg is nie;
· Staan ‘n oomblik stil op ‘n warm dag en lê op jou rug op die gras;
· Drink op ‘n snikhete dag baie water en lê onder ‘n skaduweeboom;
· As jy gelukkig is, dans rond en swaai jou hele lyf;
· Wees lojaal, moet nooit iets voorgee wat jy nie is nie;
· As dit wat jy wil hê diep ingespit is, grawe tot jy dit vind; en
· As iemand ‘n slegte dag het, wees stil, sit naby en leun saggies teen hul aan.

16/10/2022

PIET SE BEERTJIE

Ek tree by ʼn KANSA oggend op en ʼn vrou vertel van ʼn vorige keer toe die organiseerder uit die bloute vir haar man, wat met breinkanker gediagnoseer was, ʼn sagte teddiebeer saamstuur huis toe.

Sy het dit huiwerig aanvaar omdat sy nie haar man met so beertjie kon voorstel nie – hy was immers selfs in sy siekte nog steeds hierdie groot en lywige Bloubul-ondersteuner. By die huis gekom was sy egter geraak en verbaas oor hoe die beertjie deel van sy lewe geword het, selfs later saam met hom Hospies toe is, waar hy oorlede is.
Die beertjie het toe teruggekom huis toe en lê nou in die aande langs haar op Piet se plek.

ʼn Aangrypende storie, maar nog meer so toe sy aan die einde van haar storie na die organiseerder toe draai met die woorde: “Lorraine, dankie dat jy daardie dag geluister het na daardie stemmetjie wat in jou oor gefluister het. Jy was die instrument en God kon jou gebruik.

Dit het my regtig getref.
Hoeveel maal het ons nie daardie naam, saak of gesig wat skielik voor ons opkom nie. Sonder rede wonder jy hoe dit met iemand gaan of het jy ʼn behoefte om met hulle kontak te maak.
Moenie die geleentheid om vir iemand anders tot seën te wees misloop nie. Bel, stuur daardie SMS, gaan kuier.

As jy vandag die vreemde behoefte kry om vir iemand ʼn sagte teddiebeertjie te gaan gee, moet jy nie uitstel nie!

14/10/2022

HY PLANT DAN ERTAPPELS!

In Namakwaland het ek 'n kollega gehad wat op Alexanderbaai predikant was. Hy was voorheen iewers in die Sandveld predikant in die destydse N G Sendingkerk. As ek reg onthou was dit Hopefield.
Terwyl hy daar was, word hy na 'n ander gemeente beroep. In die dorp en gemeente het daar stories rondgegaan dat hy beslis die beroep gaan aanvaar. Dit is ‘n groter dorp met meer geriewe wat nie te versmaai is nie, het sommige gereken. Daar was dan ook diegene wat amper met die hand op die Bybel sou verklaar dat die dominee self dit so laat deurskemer het.
Ongeveer 'n week voor hy sy besluit aan die gemeente moes bekendmaak, werk hy die Saterdagoggend in die tuin. Die erf het 'n hoë muur rondom gehad en hy het in een van die akkers naby die muur aartappelmoere geplant. Omdat hy op sy knieë dit gedoen het, was hy nie sigbaar vir die verbygangers nie. Maar hy kon hulle hoor gesels.
Daar kom toe juis 'n paar van die gemeentesusters verby gestap. Hulle was druk in gesprek oor hulle dominee wat beroep is. Net die gedagte, het een van die susters opgemerk, dat hy moet weggaan, maak haar baie droefgeestig. Volgens haar was hy en sy vrou die beste leraarspaar wat hulle nog gehad het. En waar gaan ons ‘n pastoriemoeder soos mevrou kry? Sy het die orrel so mooi gespeel en moeite met die Sustersvereniging gedoen.
Blykbaar het een van die susters op 'n manier gesien waarmee die dominee agter die muur besig was, en sy verklaar baie gesagvol: Nei, man, hy sallie weggaan nie. Hy plant dan ertappels!

09/10/2022

Oom Kappies en Tannie Odie op reis om films by die plattelandse dorp te gaan vertoon.

Oom Kappie was, soos ek dit verstaan, gemoeid met die maak en redigering van die films. Maar heel dikwels moes hulle ook die pad vat met projektor en luidsprekers en skerm om die film op plattelandse dorpe te gaan vertoon. Sommer in die Stadsaal of Kerksaal. Tant Odie in die kaartjieskantoor en oom Kappie in die projektorkamer.
Daardie tyd het hulle nie oor die luukse van vliegtuigritte beskik nie. As daar vergadering gehou moet word, dan moes hulle maar per motor reis. En hulle moes so ver as moontlik met mekaar saamry.
So moes die lede van die bestuur en die amptenare by geleentheid van Irene buite Pretoria na Bloemfontein toe ry. Twee van die bestuurslede (eerbiedwaardige broeders leraars van daardie tyd met swart pakke en wit dasse, afgerond met ‘n wit reisjas) sou saam met oom Kappie en tant Odie ry. Tant Odie sit agter saam met die een dominee en die ander een, redelik swaarlywig, voor by oom Kappie.
Op pad van Irene na Bloemfontein moes hulle by die een of ander kinderhuis aangaan. Een van die broeders dien daar in die bestuur en hy wou net ‘n haastige besoek daar gaan aflê. Sy besoek was dan ook baie vrugbaar want hy kom toe terug met ‘n hele kardoessak droë perskes en grondboontjies.
Hulle was skaars weer op pad, of daar word droë perskes geëet. Die ou broeder voor langs oom Kappie het sommer so ‘n handvol elke keer geneem. Maar nou weet ons mos almal dat droë perskes nie met hom laat speel nie. En in kombinasie met grondboontjies kan dit katastrofies wees. Oom Kappie merk toe later dat die ou broer kort-kort so effe skuins draai, so asof hy nie gemaklik sit nie. So asof iets hom pla. Maar oom Kappie draai maar net die motorruit oop. Tot op ‘n punt toe hy dit nie verder kon vat nie. Hy hou stil en klim uit en sê vir die dominee:
“Kyk ek is nou moeg en siek en sat vir jou ‘Cushion creepers’. Laat hulle nou uit sodat ons in vrede en met vars lug verder kan ry.”

26/09/2022

(Gister, op Erfenisdag, het ek weer ged**k aan die dag toe oom Manie en tannie Mara Groenewald - beide is al oorlede - my van bloedpoeding vertel het. Het dit nog nooit geëet nie... Oom Manie-hulle het al die jare die kontantwinkel op Baardskeerdersbos gehad. Sulke kontantwinkels is ook deel van ons erfenis.)

BLOEDPOEDING

Nog niemand het vanmôre by oom Manie en tannie Mara Groenewald se kontantwinkel op hier op Baardskeerdersbos ingestap nie.
Tannie Mara staan agter die toonbank en staar by die deur uit na die grondstraat wat van Gansbaai se kant af die dorpie inskommel. Oom Manie sit by ’n tafel met ’n bleekgeel Formica-blad oorkant die winkel se enkele koelkas.
“MasterChef SA,” verklaar een van die opskrifte in die koerant wat oop voor hom lê. “Uie kap is nie vir sissies nie.”
Oom Manie lees ’n ruk, leun hy terug in die stoel, en vra: “Jy ken seker nie bloedpoedieng nie, nè?” Hy kyk na my, dan kyk hy na tannie Mara. “Sal ek hom vertel, Ma?”
Tannie Mara antwoord nie, ’n seuntjie het pas by die deur ingekom, kaalvoet, in ’n T-hemp met ’n geskeurde mou. By haar op die toonbank lê ’n skryfboek met omkrulblaaie.
“Die ou mense was arm, ou broer.” Oom Manie se oë is weer op my. “Hulle’t niks weggegooi nie. Hulle’t als gebruik. Ook van ’n vark.” Hy stut hom op sy vaal geëelte elmboë op die tafel. “Jy sny mos die vark se keel af wanneer jy hom slag, nè? Dan spuit daai bloed so. Dan vat jy ’n skottel, dan vang jy daai bloed daarin op.”
Die seuntjie gaan staan voor tant Mara en kyk na die goed agter haar op die rakke: blikkies sousboontjies en boeliebief, pakkies Kloof-koffie, bottels brandspiritus. Kerse. Rolle toiletpapier.
“Dan laat staan jy daai bloed vir ’n ruk in daai skottel,” gaan oom Manie voort. “Jy los dit net, jy los net daai bloed. Dit raak later so dikkerig hier bo, maar dít skep jy af. Daai dikkegeid soek jy nie.”
Die seuntjie wys na iets en tannie Mara haal ’n blikkie Lucky Star-vis van die rak af en sit die op die toonbank voor hom neer.
“Nou gooi jy jou bestanddele by daai bloed. Jy gooi meel in. Jy gooi rys in, en spek, en bakpoeier . . .” Oom Manie se oë soek weer in tannie Mara se rigting. “En rosyntjies, Ma? Jy gooi mos rosyntjies ook in?”
“En rosyntjies ook, ja,” bevestig tannie Mara.
“Nou’s daai bloed so deegrig van als wat jy daar ingegooi het. Dan sit jy daai mingsel in so ’n sak, ’n meelsak. Dan bind jy daai sak toe en gaan sit dit in ’n pot water wat buite op die vuur staan en kook. Dan kook jy hom vir vyf ure.” Oom Manie klap met sy plat hand op die tafel. “Vyf ure!” ’n Glimlag sprei oor oom Manie gesig. “Oe, mens, as jy hom daar uithaal, is hy so ’n ronne koek. Jy laat hom koud word en eet hom net so.”
“Hy’s soos ’n tjoklitkoek,” kom tannie Mara se stem van die toonbank af.
“Soos tjoklitkoek,” bevestig oom Manie.
Die seuntjie sit ’n paar muntstukke voor tannie Mara op die toonbank neer, maar dit lyk nie na genoeg nie. Hy voel in sy sakke vir nog, skud sy kop. Tannie Mara sê iets vir hom en skuif die blikkie na hom toe.
“Ons was arm, ou broer.” Oom Manie skud sy kop.
Met die blikkie Lucky Star-vis in die hand gaan die seuntjie weer by die deur uit, skuurvoet oor die sementvloer, af by die twee deurgetrapte trappies. By die toonbank leun tant Mara vooroor en skryf iets in die boek met die opkrulblaaie.

22/09/2022

Liewe Ma en Pa,

Dit gaan goed met my en met julle?
Sê vir boetie Wouter en boetie Koos dat
om in die Army te wees baie lekkerder is
as om vir Oom Piet te werk.
Hulle moet sommer gou kom aansluit
voordat al die plekke gevul word.
Ek was eers baie ongemaklik omdat mens
in die bed moet bly tot amper 06:00,
maar nou geniet ek dit om so laat te kan
slaap.
Sê vir Wouter en Koos al wat mens voor
ontbyt moet doen, is om jou bed netjies
en glad te maak en goed blink te vryf.
Niks’e ge-varke voer, koeie melk,
mampoer meng of braaihout kappery nie.
Jy doen amper niks!
Manne moet nog skeer, maar dis nie so
erg nie, want daar’s warm water.
Brekfis is sterk op vrugtesap, pap, eiers en
bacon, maar minder sterk op steaks,
boerewors, tjops, aartappels en goed soos
vetkoek.
Maar sê vir hulle jy kan altyd tussen twee
dorpsjapies wat net koffie leef, gaan sit.
Hulle kos plus joune hou mens darem vol
tot twaalfuur toe wanneer jy weer gevoer
word.
Hierdie dorpsjapies kan nie juis ver stap
nie.
Ons gaan op roete marse, wat ons sal taai
maak, sê die Sersant.
As hy so d**k is dit mos nie my plek om
hom reg te help nie.
'n Roete mars is omtrent so ver soos tot
by ons posbus by die huis.
Dan kry die dorpsjapies seer voete en ons
almal ry dan terug
in lorries. Die veld is mooi, maar baie plat.
Julle gaan julle morsdood lag as julle
hiervan hoor. Ek bly medaljes kry vir skiet.
Ek weet nie hoekom nie.
Die bulls-eye is net so groot soos 'n dassie
se kop en beweeg glad nie eers nie.
En dit skiet nie eers terug soos daai
Venter’s van die buurplaas nie. Al wat jy
moet doen is om doodstil te lê en dit raak
te skiet.
Jy hoef nie eers jou eie ammunisie te
maak nie, dit kom in bokse.
Dan is daar wat hulle noem "hand-to-
hand combat training".
Jy stoei met die dorpsjapies van die stad
af.
Ek moet versigtig wees, want hulle kry
maklik seer.
Dis nie soos om met ons ou bul, Swart
Duiwel, by die huis te stoei nie.
Ek is omtrent die beste wat hulle in
hierdie peleton het, behalwe vir Groot Jan
Jordaan van die Bosveld.
Hy het saam met my aangesluit. Maar ek
is omtrent 5 voet 6 en weeg 70kg en hy is
6 voet 8 en weeg maklik 150kg, droë
gewig.
Sê tog my boeties moet gou maak en
aansluit voordat ander ouens uitvind van
die ongelooflike Army setup en
aangestorm kom!

Julle liefdevolle dogter Saartjie!

19/09/2022

Die pioniers van Gannahoek! Groot oupa Grys Mechiel en ouma Martha.Oupa het die brakdak woning op Gannahoek gebou,dit was egter eers 'n meulhuis.Oupa het 'n stoomenjin uit Engeland uit ingevoer waarmee hy water uit die ou groot fontein gepomp het om die koring wat hy daar gesaai het te benat.Mense het sover as Colesberg gekom om meel hier te kom koop,dit was die jaar 1852.Die naaste dorp was Colesberg en ook die naaste kerk todat Hopetown later gestig is ( Eers Duvenaarsfontein)

28/08/2022

Hierdie is so mooi, mens moet dit net lees, weer en weer.

Al sou die vyeboom nie bot nie, Here, en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie. Al sou die olyf-oes misluk, en die lande geen oes lewer nie . . .

En al sou die verlang tot diep in my oë gaan lê, en die bang en onsekerheid bietjies-bietjies in my hart wegkruip.

Al sou die pad kilometers vol grond en gate voor my voete uitloop, en my hart se probeer moeg raak.

Al sou my oë sukkel om die son raak te sien, die son wat U elke dag op my pad kom neersit.

Al sou my kop aanhou probeer om my hart te verstaan, en my bid party dae moeg voor U kom kniel . . . nogtans sal ek in U bly glo.
Sal ek glo dat U hart goed is, en liefde is.

Nogtans sal ek elke môre stil luister of ek U stem hoor. Want dit is U wat vir my die krag gee om elke oggend op te staan en my stukkie pad voluit te stap.

Dit is U wat my hart se huil stilmaak en die stukkies verlang gaan wegbêre, daar waar dit hoort.

Dit is U wat die verlede se onthou toevou in U hande, en dit eenkant neersit, daar waar dit my nie meer kan raaksien nie.

Dit is U wat langs my kniel en my optel, as die pad vir my te lank word.

Daarom sal ek glimlag oor U.

Daarom sal ek elke oggend U vrede diep in my hart gaan wegbêre.

Daarom sal ek my kop oplig en die lewe stil in die oë kyk . . . want U, Here, loop saam met my. Elke dag. Altyd. En dit is vir my genoeg.

Amen

26/08/2022

Aan die einde van std 9(2)kry ek my bestuurslisensie. Ek voel regtig hoe die leerlinge my aanstaar en bewonder toe ek die volgende dag met ma se "prefek" langs mnr Gouws onder die doringboom parkeer. Hy groet my met n frons en se Popeye het jy al n " licence"?, die bynaam kom nie van my spiere af nie, ek is eintlik so genoem omdat my oe toe gaan as ek lag en omdat die Afrikaanse vertaling van Popeye daardie jare nog" out of bounds was."
Ek laat selfs my baard vir drie dae, na die verwerwing van my lisensie groei ek voel n man met n lisensie moet n baard he, mnr Homan roep my kantoor toe spreek my aan oor my onversorgde baard en dreig om my g..velle af te trek.
Ma werk by die handelshuis , ek is uit die koshuis "geskors" (onskuldig ), natuurlik bloot net omdat my vriend Piet Smit en ek n welverdiende langnaweek geneem het toe ons, ons "datums" verkeerd gehad het en die lang naweek die vorige naweek gevat het, ek meen almal van ons het tog al ons datums verkeerd gehad maar hiervan wou mnr Homan niks weet nie.Piet se pa het n sandwerke in Muldersdrift gehad en ons besluit om die pad soontoe te vat daar aangekom met die valse verwagting dat sy ouers bly sal wees om ons te sien, loop ons, ons teen n muur vas, sou ouboet aanvaar sommer dat ek sy boetejie verlei het en klap my op sig dat my ore nou nog tuit. Oom Smit bel my bekommerde pa en ma en hulle jaag deur om my te kom haal. Verantwoordelike seun wat ek was skryf ek net onder my broek se zoom my telefoonnommer met n kort boodskappie vir my ma. Nou my pa was nie n man wat "nonsense" gevat het nie, hy is doodstil in die kar op pad terug en ek vrees amper vir my lewe. Ek besef ek sal iets moet doen, ek trek my broek se zoom effens op. MA vra Koos wat gaan daar op jou been aan, en toe lees sy my liefdesverklaring aan haar,maar toe sy agter kom ek het per ongeluk ons telefoonnr verkeerd, toe besef ek hoekom n moeder so n groot hart het. Ek sien hoe die trane haar oe vul, ek luister met verlig ting toe sy vir pa se as jy vandag aan Koos raak sal jy met my te doen kry.
Piet Smit my vriend se ouers het hom sommer na hierdie misstap na n ander skool geneem ek het hom nooit weer gesien nie. My pa het my die Maandag persoonlik na mnr Homan se kantoor geneem, hier was die straf drieledig
* ek word sonder seremonie uit die koshuis geskors * Ek kry 4 houe met die kweperlat, die slag van die eerste hou is so geweldig dat my pa se oe traan, ek voel nie veel, die dasvel in my onderbroek gaan ek nog patenteer dit is wragtag "shock proof" *die derde element van my straf was vir my die ergste.
Ek sou by die opening die Maandag die leerlinge omverskoning moes vra omdat ek ons skool se goeie naam in "disrespuut" gebring het.
Die Maandag open mnr Homan die skool met skriflesing en gebed vanaf die eerste vloer met ons wat op die gras voor die "snoepie" vergader is. Ek staan tussen my maters. Mnr Homan voorbeeldige mens wat hy was het my probeer voorberei op my "vernedering"
wat voorle. Kyk seun het hy gese jy gaan blootgestel word aan groot vernedering van jou maats, maar onthou in die lewe is dit nie hoe jy gaan le nie, maar ware karakter word openbaar wanneer jy opstaan .Na die skriflesing en gebed en net voor ons met die sing van die stem afsluit, maak mnr Homan keelskoon en se leerlinge ek het n netelige saak om vandag met julle te bespreek, sal Koos Botha asseblief hier na my kom.
Ek voel hoe n bewerasie deur my liggaam trek, ek klim die trappies by die "snoepie" op en gaan staan op die eerste vloer langs mnr Homan en uit die bloute stel hy my aan die woord. Ek weet nie hoe om te begin nie, se ek geagte mnr Homan en kollegas, maar ek besef hulle is nie my kollegas nie.
Toe ek weer my kom kry hoor ek myself se, mnr Homan het gevra dat ek julle onverskoning moet vra en ek wil net graag se "askuus" ek sien die duiweltjies in mnr Homan se oe, toe ek besef dat ek nie die oortreding beskryf het nie.
Ek kyk oor die leerlinge heen en d**k en wonder hoe ek hierdie vernedering gaan oorleef. Maar dan bars n applous los soos nie eers oom John kon ontketen nie. Ek het my so voorberei vir die vernedering dat ek nooit kon d**k dat ek met hierdie wandaad in die harte van my mede leerlinge sou beland nie. Ewe skielik val iets my daardie dag te binne en dit is om altyd vir die generasie gaping voorsiening te maak wat vir die een Groep verwerplik kan wees, kan eweneens vir die volgende Groep opheffend wees, van daardie dag af was ek bekend en geliefd. Mnr Homan het my geleer om nooit weg te skram om jou foute te erken en jou pak soos n man te vat nie.
Jare later word ek tot die Parlement (LP) verkies, mnr Homan word die (LPR) vir Potgietersrus. Ek word sy senior in protokol maar in my hart het mnr Homan altyd my senior gebly.

Address

Pringle Bay
7196

Telephone

+27729778564

Website

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Lag en Plesier Afrikaanse Stories posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Share