29/05/2026
MY BOEKMERK
LESERSINDRUK: Soetdoring in die ruigtes deur Christiaan Bakkes
Die bekende natuurkenner, Sir David Attenborough (wat hierdie maand sy honderdste verjaardag gevier het), het gesê: “It’s surely our responsibility to do everything within our power to create a planet that provides a home not just for us, but for all life on earth.”
Christiaan Bakkes se nuutste boek, “Soetdoring in die ruigtes” spreek juis die kwessie van natuurbewaring aan. Bakkes is bekend vir sy verhale oor natuurbewaring, veldwagters en diere. Die verhaal begin met Caleb Kelly, ’n jong WOI-veteraan, wat in 1916 getraumatiseerd en geskend na die Oos-Kaap terugkeer. Die afgryse wat hy in Frankryk beleef het, is ingebrand in sy wese. Kort ná sy terugkeer vernietig olifante die windpomp op sy plaas. Caleb is woedend en gereed om wraak te neem, maar dan gebeur iets onverwags en sy toorn maak plek vir ’n vriendskap met ’n trop wat bedags tussen die ruigtes naby die plaas skuil. Intussen is daar ook ‘n politieke spel aan die gang, toe ‘n grootwildjagter en oorlogsheld, Dewald Troskie, deur die plaaslike regering aangestel word om die olifante wat die nuwe landbou-ontwikkeling in die Sondagsriviervallei plunder, uit te wis.
Die verhaal handel oor die lot van hierdie trop olifante, verteenwoordigend van die groot hoeveelheid olifante in die gebied, die amperse uitwissing van hierdie diere en hulle uiteindelike hervestiging en ontstaan van die Addo-olifantpark in 1931. Soetdoring, die olifantbul, se lewensloop word gevolg van kalfie tot ou bul en met sy gewonde oor is hy moontlik ‘n verwysing na die legendariese Hapoor, wat vir jare die dominante bul in die Addo Nasionale Olifantpark was. Die skrywer ken die gewoontes van die olifante en die natuurlike omgewing goed en dis ‘n interessante deel van die boek, veral vir my as Oos-Kapenaar. Dit het my ook gedwing om weer na die ontstaan van ons verskillende nasionale bewaringsparke te gaan kyk – iets wat ‘n baie groot hulpbron en aantrekkingskrag in Suid-Afrika is. Die aanbieding van die olifante as karakters was egter nie oortuigend nie. Die weergee van feitelike inligting deur middel van fiksie kom dikwels deur die boek geforseerd voor en maak identifisering en meelewing met die karakters moeiliker. Daar is baie voorbeelde van suksesvolle diereverhale en -karakters in die Afrikaanse letterkunde, maar Soetdoring en sy trop is nie so geslaagd soos ‘n mens sou hoop nie.
Die temas wat in hierdie boek aangespreek word maak hierdie verhaal relevant, al speel dit in ‘n ander tydperk af. Die tegniese detail van byvoorbeeld jag, gewere, oorlogsituasies en geografie skep ‘n bepaalde omgewing en dien as’t ware as “voertuig” om sekere kwessies aan te spreek. Die mens se verhouding met die natuur is ‘n belangrike motief. Die moderne mens staan dikwels in konflik met die natuur en tipies mens word geweld gesien as oplossing van geskille: van geweld teenoor mekaar (in die oorlog en die skermutseling op die dorpsplein tot by Troskie se hantering van sy werkers en amper-verkragting van Maria), en teenoor die natuur deur die vestiging van grootskaalse boerderyskemas ter wille van ontwikkeling en uitwissing van die olifante. Die mens se wreedheid teenoor diere maak hom afgestomp vir alle wreedheid en geweld neem toe, ten koste van ons eie siele en die omgewing waarin ons woon. Een van die treffendste beelde in die boek is die verrotting van die jagter Dewald Troskie se velpak. Dit is simbolies van sy innerlike verrotting wat gepaardgaan met sy toenemende wreedheid. Daar is ook natuurlik die keersy: daar is “goeie mense” wat hulle beywer vir die bewaring van die natuur en hulle uitspreek teen geweld vir politieke gewin.
Hierdie beeld sluit aan by ‘n ander tema in die boek, naamlik die trauma wat die gevolg is van geweld en die hantering daarvan. Die oorlog en geweld daarna het ‘n merk gemaak op Caleb Kelly, op Dewald Troskie en op die omgewing waarna hulle terugkeer. Soetdoring se aggressie teenoor mense toon dat ook die natuur daardie merk dra. Hulle dade vertoon die skade en die natuur word gesien as ‘n middel tot genesing: nie net in die natuur beweeg nie, maar in balans met die natuur lewe.
Hierdie verhaal sal aanklank vind by lesers wat belangstel in natuurbewaring, maar dit vloei nie altyd vlot nie en die karakteruitbeelding het leemtes. Dit is egter ‘n lekkerleesverhaal geplaas teen ‘n interessante moment in die geskiedenis. Soetdoring in die ruigtes is uitgegee deur Human en Rousseau, ‘n drukkersnaam van Jonathan Ball Uitgewers en is in alle goeie boekwinkels en aanlyn beskikbaar.
Los die TV en koop ‘n boek!
Lekkerleesgroete
Marinda