22/05/2026
Salmah en Christiaan du Preez se liefde vir kuns is diep verweef met hul geloof, hul huwelik en hul gesinslewe. Albei glo dat kreatiwiteit ’n gawe van God is — iets wat nie net geskep word met hande nie, maar ook met hart en siel.
Salmah, gebore Naudé, het grootgeword in ’n groot huisgesin van agt kinders in Worcester. Van kleins af het sy die vreugde ervaar om iets met haar eie hande te kan skep. Vir haar is kuns meer as net verf op ’n doek — dit is ’n herinnering aan die Here wat haar ook met Sy hande geskep het. Vandag is sy getroud met Christiaan, ’n apteker en mede-kunstenaar, en saam maak hulle hul dogtertjie, Amelia Esther, groot.
Christiaan, wat in Pretoria gebore is, vertel dat sy liefde vir kuns reeds in die kleuterskool begin het toe hy trots was op ’n eenvoudige ingekleurde wurm. Daardie klein oomblik het die saad geplant vir ’n lewenslange passie vir teken en skilder. Soos Salmah, glo hy sy talent kom slegs van God af.
Kuns speel vandag ’n besondere rol in hul huwelik. Interessant genoeg noem Salmah haar man as haar gunsteling kunstenaar, terwyl Christiaan op sy b***t háár as sy gunsteling kunstenaar beskryf. Hierdie wedersydse bewondering weerspieël iets van hul verhouding — twee mense wat nie net hul lewe deel nie, maar ook hul kreatiewe wêreld.
Albei werk hoofsaaklik met olieverf, maar elkeen bring hul eie unieke styl en voorkeur na die doek. Salmah hou van pienk, omdat dit vir haar vroulikheid verteenwoordig, terwyl Christiaan aardse kleure verkies soos geeloker, gebrande siena en Payne’s grey. Waar Salmah vreugde vind in die manier waarop kleure saamvloei en meng, geniet Christiaan die uitdaging daarvan om die unieke eienskappe van gesigte en diere vas te vang.
Portrette lê na aan albei se harte. Vir Christiaan is elke gesig uniek en vol karakter, terwyl Salmah eenvoudig geniet om mense deur kuns tot lewe te bring. Selfs hul tydverdryf weerspieël hul waardes — Salmah ontspan deur te skilder, terwyl Christiaan die meeste waarde heg aan familietyd.
Ten spyte van hul talent bly hul benadering tot kuns nederig en opreg. Salmah glo mens moet skilder bloot vir die genot daarvan, terwyl Christiaan jong kunstenaars aanmoedig om met verskillende mediums te eksperimenteer en nie bang te wees vir foute nie. Saam vertel hul storie van geloof, liefde, familie en die besondere manier waarop kuns twee mense nader aan mekaar — én nader aan hul Skepper — kan bring.