Daar is min Afrikaanse musikante én sangers wat soveel vrolikheid op note kan verseker soos Juba. Hul jongste en derde album, As ek eendag ophou droom, is ‘n vurige viering van hierdie mylpaal. Juba se nuutste album is ‘n kragtige duo met ‘n totaal van dertien nuwe liedjies op die nuwe album. Martiens is die liedjieskrywer van gewaarborgde treffers soos Soveel keer en die voetejeuk-rugbyliedjie Sp
ringbokspan. Maar JUBA sing ook hartsnaar-tintelende ballades soos Bella en die onvergeetlike Liewe Ma.
“Al die hartseer gebeure in 2013 het ‘n definitiewe invloed op die nuwe album gehad,” vertel Martiens. “Ons het egter nie afgewyk van die skuurdans-deuntjies en –ritmes nie. Daar is wel ‘n paar nostalgiese, hartseer snitte, soos Liewe Ma, Vaarwel, Bella en Waterbergdrome, wat jou tot nadenke sal dwing.”
Musikaal wil Juba nie in ‘n boks gedruk word nie. Tog kan hul kraakvars akoestiese kitaarklanke bied, tesame met pop, rock en ‘n proeseltjie moderne Boeremusiek. Al hul musiek is gerugsteun deur die opbeurende, positiewe lirieke. “Ons leef definitief positief en gryp die dag aan, maar Martiens sê ‘n mens dans nie net in die lewe nie, soms is dit nodig om ‘n glasie rooiwyn te drink en diep te raak. Ons is almal net mens.
“As ek eendag ophou droom is ‘n unieke album. Trots Suid-Afrikaans sing ons graag oor die positiewe in ons sonnige land, en soms, met ‘n tong in die kies, is daar ‘n boodskappie of twee vir andere…”
Juba se musiek is vir die hele gesin. Die inspirerende titelsnit is die ideale voorgereg op ‘n album wat sonder enige vervelige vullers uitgereik word. Bosvarkjag is sommer pure pret, terwyl Langebaan en Protea ewe gemaklik onder die vel kom inkruip. En Vat jou goed en trek gee sommer ekstra woema aan dié ou gesegde. In Afrikaans is daar min volwasse kontemporêre albums wat soveel verskeidenheid in klank én liriek bied. Met Martiens se vernuf as liedjieskrywer en die duo se jolige saamsing-melodieë waarborg JUBA dus weer eens ‘n album wat ‘n glimlag en gelukkige voete op die dansvloer sal verseker.