09/05/2025
’n Verdraaiing van Geskiedenis: Waarom Vroee Afrikaans Weer Gehoor Moet Word
Geskryf deur die Vroeg Gesproke Africaansch stigter en akteur Zacharia Botha
Gister het Afrikaans amptelik sy honderdjarige mylpaal as amptelike taal bereik. En soos klokslag het daar op al die Engelse én Afrikaanse platforms ’n storm van inhoud losgebars—artikels, video’s, meningsstukke—alles met een doel: om betrokke te wees. Want Afrikaans is weer in die mode. Dis trending. En dit beteken: likes. Bereik. Aandag. Daar’s weer belangstelling in die taal—en in al die aspekte van dié taal.
Maar wat my regtig tref, is iets wat al ’n rukkie by my spook. Elke keer as ek deur vroeë koerante, briewe en dokumente blaai—veral van die 1820’s af—raak ek bewus van ’n stil verdwyning. Moderne artikels praat óf glad nie van hierdie oorspronklike bronne nie, óf hulle hanteer dit oppervlakkig. Wat dan die plek daarvan inneem, is ’n nuwe stel ideologiese filters—’n soort herskryf van die geskiedenis, met ’n inklusiwiteitsagenda en ’n moderne moralistiese lens.
In plaas daarvan dat die vroeë geskiedenis van Afrikaans met al sy stemme en vorme volledig vertel word, word dit herskep om aan hedendaagse politieke vereistes te voldoen. In baie publikasies is daar byvoorbeeld ’n oordrewe fokus op Arabies-Afrikaans as die énigste oorsprong, en ’n stil uitsluiting van ouer, minder “aanvaarbare” figure soos Charles Boniface, Suasso de Lima en Henri Meurant.
Ons spring oor die tydperk tussen 1795 en 1875 en reguit na S.J. du Toit. Want dit is makliker. Dit pas in die narratief. Maar wat gebeur as jy só met die geskiedenis omgaan, is dat jy nie meer feite navors of bronne raadpleeg nie—jy begin ’n weergawe van die verlede skep wat gerieflik pas by jou tydsgees.
En dit is juis daardie soort benadering wat ek teenstaan met my projek, Vroeg Gesproke Africaansch. Ek dramatiseer en vertolk materiaal uit daardie vroeë tydperke—nie as museumstukke nie, maar as lewende tekste met konflik, emosie, humor en storielyne. Ek soek narratiewe tekste waarin iets gebeur, waar karakters praat, reageer, droom of stoei. En dié stories is volop—mits jy weet waar om te kyk.
Maar wat doen ons in die hoofstroomartikels? Ons lê byna uitsluitlik klem op Arabies-Afrikaans. Asof dit die alfa en omega is van vroeë Afrikaans. Dis ’n gevaarlike enkelvertelling. Want:
Jy moet Arabies kán lees en verstaan om dit te waardeer; Dit vereis spesiale toegang tot argiewe en kundigheid; En dit maak dat sogenaamde inklusiwiteit in werklikheid eksklusiwiteit word.
Dít is ironies. En dis onregverdig teenoor die ander bronne wat veel makliker toeganklik is—briewe, koerante, liedere, satire en toneel uit die hele 1800’s. Werk wat in Latynse skrif en dikwels foneties geskryf is. Werk wat deur gewone mense geskryf is. Mense wie se stemme ons nou weer stilmaak.
Afrikaans is ’n volkstaal. En dit is presies waar die krag van die taal lê: nie in gesagstekste of monumente nie, maar in stemme van mense wat praat. En praat. En praat.
Afrikaans het vir dekades lank (soos ons sien met die opkoms van joernalistiek in die 1820’s in geskrewe vorm, maar moontlik reeds eeue tevore in gesproke vorme) bestaan lank voordat dit formele geskrewe erkenning gekry het.
Jy vind vroeë Afrikaans in poësie, spotliedere, briewe in koerante soos De Zuid-Afrikaan, toneelstukke (De Nieuwe Ridderorde, 1832), dagboeke, gepubliseerde boeke (soos die opmerkings van buitelanders soos Teenstra in 1826), en selfs gebundelde samespraak-publikasies soos dié van Klaas Waarzegger en Jan Twiverlaar deur Henri Meurant in 1860—en dan uiteindelik ook bybelvertalings, ensovooorts
Maar wanneer daardie bronne uitgevee of stilweg verwyder word uit moderne vertellings, verloor ons toegang tot die volkstaal. Jy maak dit eksklusief. Jy skep die indruk dat Afrikaans slegs in Arabies geskryf is vir gewone mense. En dit is eenvoudig onwaar.
Dis asof die taal se ryk register en geskakeerde oorsprong onwelkom geword het in vandag se akademiese of mediagedrewe omgewings.
Een van die aspekte wat ek graag uitlig in my werk, is die karaktertipes in vroeë Afrikaanse skryfwerk. Jy kry die plaaswerker of vagabond, die setlaar en boer, die buitelander—allemaal met hul eie satire, ironie en volkswysheid.
Hierdie karaktertipes toon die werklike diversiteit van taalgebruik in die Kaap, Natal, die Vrystaat en Transvaal. En hulle is toeganklik. Jy kan dit lees, verstaan, dramatiseer, herleef.
Maar as ons daardie stemme uitsluit in ’n poging om net “korrekte” bronne te gebruik, verloor ons nie net insig nie—ons verloor ons erfenis. Die stiltes groei. En dit is... wel, dit is maar net bietjie hartseer.
D**k aan Shakespeare. Sy werk is moeilike, vroeë moderne Engels. Maar dis toeganklik gemaak deur apps, vertalings, voorlesings, opvoerings. Jy hoef nie ’n professor in Elizabethaanse taal te wees om Hamlet te verstaan nie.
Waarom doen ons nie dieselfde vir ons eie vroeë skrywers nie? Waarom is die karakterbriewe van De Lima, Boniface en Meurant nie toeganklik nie? Waarom word toneelstukke soos De Nieuwe Ridderorde, Clasius Stupidibus & Bavianus, vergete gehou? Selfs Melt Brink se eerste toneelstukke uit die Aurora-tydperk verdien herontdekking.
Dis tyd vir ’n kultuur van dramatiese lees en speel uit ou tekste—soos wat dit bedoel was.
Kyk na my verskeie interpretasies van een van die oudste voorbeelde van Afrikaans. Die spotlied van 1795 (’n so met Die Erfenisstigting se museumteater: https://www.facebook.com/share/15Sn77xbfA/? )—dalk die oudste voorbeeld van gesproke Afrikaans wat oorleef het. Dis nie weggesteek in ’n akademiese proefskrif of museumuitstalling nie. Dis in tydskrifte, boeke oor Afrikaans se ontstaan, op webwerwe—en nou definitief in gedramatiseerde vorm.
So asseblief—kyk die video’s, luister na die voorlesings, en herontdek saam met Vroeg Gesproke Africaansch die wêrelde van daardie eerste stemme. Nie net Arabies nie. Nie net “korrek” nie. Maar volkome, gesproke, vroeë Afrikaans. Dis inklusief juis omdat dit divers is. Juis omdat dit nie inpas nie.
Dis tyd dat ons ophou om vroeë Afrikaans in ’n netjiese, politieke pakkie toe te draai. Dis tyd om dit weer te hóór.
Onvervalst. Ongesensor.Onbeskaamd.
Dis jóú taal. Jóú mense. Jóú storie