02/10/2026
Hierdie week het ek met soveel mense gepraat wat ongelukkig is. Mense wat vasgevang voel in ’n verhouding, ’n werksplek, ’n vriendskap … of ’n lewe waarin hulle hulleself amper nie meer herken nie.
En ek ken iets van daardie gevoel. Ek het hierdie jaar ook baie lewensveranderende besluite gemaak en dit geneem. Ek weet hoe moeilik dit is om ’n besluit te neem wanneer jy nie weet hoe die lewe aan die ander kant daarvan gaan lyk nie.
Daarom wil ek vandag vir jou ’n storie vertel. ’n Denkbeeldige storie, maar dalk gaan iemand ’n stukkie van hulself daarin hoor.
Daar was ’n vrou wat in ’n huis met ’n baie lae deur gewoon het.
Elke keer wanneer sy ingaan of uitkom, moes sy buk.
Aan die begin was dit net ’n klein aanpassing. Sy het haar kop effens laat sak en aangegaan met haar dag.
Maar mettertyd het sy ook binne-in die huis begin buk. Haar skouers het vorentoe getrek. Sy het met haar oë op die grond geloop. Later kon sy nie meer onthou wanneer laas sy heeltemal regop gestaan het nie.
Wanneer iemand vra of sy gelukkig is, het sy gesê: “Ag, dis seker maar hoe die lewe is. Elke huis het sy dinge.”
En sy het hard probeer om die huis lekker te maak.
Sy het die mure geverf. Blomme op die tafel gesit. Die gordyne vervang. Sy het geglo dat sy dalk gemakliker sou voel as sy net nog iets regmaak.
Maar die deur het laag gebly.
Een middag kom kuier ’n ou vriendin. Hulle sit en drink koffie, en toe die vrou opstaan, sien haar vriendin hoe sy haar kop intrek — hoewel daar niks bo haar is nie.
“Hoekom buk jy?” vra sy.
Die vrou lag. “Ek is seker maar gewoond daaraan.”
Haar vriendin bly ’n oomblik stil.
Toe sê sy sag: “Ek onthou jou toe jy nog regop geloop het.”
En daardie eenvoudige sin breek iets in haar oop.
Sy onthou hoe sy vroeër gelag het sonder om eers te kyk wie luister. Hoe sy ’n mening gehad het sonder om dit vooraf te oefen. Hoe sy planne gemaak het. Hoe sy uitgesien het na môre.
Daardie aand staan sy voor die deur.
Sy is bang.
Want buite is daar onsekerheid. Sy weet nie waarheen sy gaan nie. Sy weet nie of sy alles gaan kan regkry nie.
Sy stap ook nie daardie aand sommer uit nie.
Maar vir die eerste keer sê sy hardop: “Ek kan nie vir altyd so bly leef nie.”
Die volgende oggend bel sy haar vriendin.
“Sal jy my help om ’n plan te maak?”
En so begin haar pad uit.
Met gesprekke. Met hulp. Met praktiese reëlings. Met dae waarop sy moed het en dae waarop sy weer twyfel.
Tot sy uiteindelik deur daardie lae deur stap.
Vir ’n rukkie buk sy steeds, selfs wanneer sy buite is. Haar lyf onthou wat sy so lank moes doen.
Maar stadig begin sy weer regop staan.
En op ’n gewone oggend, terwyl sy koffie maak, hoor sy haarself sing.
Sy sit die ketel neer en begin huil.
Want sy het nie eens besef hoe lank sy stil was nie.
Dalk luister jy vandag en jy weet presies waarvan ek praat.
Dalk sluk jy elke dag jou woorde. Dalk het jy opgehou om vriende te sien. Dalk raak jy Sondagaand al naar oor Maandag se werk. Dalk bestee jy soveel energie daaraan om iemand anders tevrede te hou dat daar niks van jou oorbly wanneer die dag klaar is nie.
Ek kan nie namens jou besluit wat jou volgende tree moet wees nie. Maar ek wil jou herinner: jou menswees verdien ruimte.
Jy mag grense stel. Jy mag hulp vra. Jy mag van rigting verander, selfs nadat jy jare lank ’n ander pad gestap het.
En as jy vandag nog nie kan wegstap nie, beteken dit nie jy is swak nie. Daar kan logistieke redes, geld, vrees en baie ingewikkelde dinge betrokke wees. Begin by iemand wat jy vertrou. Laat iemand saam met jou dink en beplan. As jy bang is vir iemand se reaksie, kry ondersteuning om jou volgende tree veilig te neem.
Jy hoef nie vandag jou hele nuwe lewe uit te werk nie.
Dalk is vandag se tree net om eerlik te sê: “Ek is ongelukkig. Ek het hulp nodig.”
Daar gaan dalk hartseer wees, selfs wanneer jy die regte besluit vir jouself neem. Jy kan rou oor wat jy gehoop het iets sou wees, terwyl jy steeds weet dat jy nie in die situasie kan bly nie.
Maar daar kan ook weer ’n oggend kom waarop jy koffie maak en jouself hoor sing.
Ek hoop jy kry daardie oggend.
Ek hoop jy lag weer sonder om toestemming te soek.
En ek hoop dat jy, wanneer jy eendag terugkyk, met deernis na die bang mens kyk wat die eerste tree gegee het.
Want daardie mens het jou tot hier gebring.
Dis Goedvoel Vrydag. En vandag wens ek vir jou ’n lewe waarin jy weer regop kan staan.