15/07/2016
Vrystaat Kunstefees
Longe Resensie
16 Julie 14:00 - Albert Wessels Ouditorium
Resensent: Naòmi Morgan
Longe is die bes bewaarde geheim van die fees: die teks (deur die jong Brit Duncan McMillan) is briljant, die Afrikaanse vertaling deur J.P. du Plessis en Hilletje Moller Bashew vermoedelik selfs beter as die oorspronklike (te oordeel aan uittreksels van Britse en Amerikaanse produksies op Youtube); die twee akteurs (Möller en Jan Brink) is so tuis in hul rolle asof hulle dit al jare speel; die regie kombineer dissipline (vir die dramaturg se punterige toneelaanwysings) en grenslose spontaneïteit wat die leë verhoog tot oorlopens toe vul met energie, humor en emosie.
‘n Jong paartjie, wat vir die grootste deel van die stuk ‘n gesprek (en soms ‘n monoloog) voer oor die wenslikheid om ‘n kind in ‘n uitsiglose wêreld in te bring, gebruik elke duim van die speelruimte, ook die coulisse (waar die vrou twee maal swanger raak) en die rand van die verhoog om hul punt te maak. Hulle voer ‘n lewenskragtige tweepas uit terwyl hulle praat oor die wenslikheid van kinders kry, verontrustende gesigsuitdrukkings tydens seks en hoeveel bome geplant moet word om die mens se koolstofvoetspoor te verklein. Met hul perfekte tydsberekening en tempo-wisseling hou die akteurs die gehoor in die palm van hul hand, maar dit is hul menslikheid wat bybly: met haar heldergroen rok en rooi trui soos ‘n soeklig op die grys verhoog, word Möller se ekspressiewe gesig, kuiltjies en borrelende lag ingespan om ‘n karakter te skep wat goeie sake ondersteun, die eerbare ding wil doen as lid van die mensdom en wie se verbale oordaad gelyk is aan die intensiteit van haar gevoelens wanneer sy ‘n miskraam kry of uitvind dat haar lewensmaat haar verkul. Brink is haar perfekte dans-en praatmaat: omdat hy dikwels eerder luister, is sy gesigsuitdrukkings, handgebare en lyftaal reeds ‘n antwoord, sonder om ooit stereotipies of voorspelbaar te word. Wanneer hy ‘n woord inkry of sy kant van die saak stel, is dit die stem van rede en redelikheid, sonder om ooit pedanties te word. Die gehoor raak gewoon verlief op hierdie twee menslike, snaakse, weerlose en byna onskuldige karakters.
Die titel verwys na verskillende tipes asemhaling of die gebrek daaraan (soos wanneer daar oor ‘n belangrike punt gestry word: die spoed waarteen hierdie woordryke teks vloei sonder dat ‘n woord gemis word, is duiselingwekkend!), hetsy Lamaze-oefeninge, die uitblaas van ‘n laaste asem of die metrum van ‘n alleenspraak wanneer niemand jou nie meer onderbreek nie.
As die res van die wêreld Afrikaans kon verstaan, sou hierdie produksie oorsese gehore gaande gehad het. Intussen kan die plaaslike teaterliefhebbers hul verkneukel in nog ‘n Afrikaanse vertaling van ‘n suksesvolle, kontemporêre stuk: dit is onweerstaanbaar. Longe slaan jou asem weg!