27/06/2025
Vrystaat Kunstefees ATKV
Daar heers groot opgewondenheid oor die enorme voorreg om vanjaar in die Wynand Mouton-teater op die planke te wees.
Die ATKV Reza de Wet-tienertoneelfees word vanjaar hier van 4 tot 7 Julie aangebied.
“Om ure se oefening en opofferings die moeite werd te maak, kan ek nie aan ’n beter manier d**k om die toneelseisoen in ’n teater soos die Wynand Mouton af te skop nie!” sê Miana Fourie (gr. 11).
“Teaters soos hierdie help hoendervel-oomblikke skep en ’n gevoel van spanning en afwagting om op die verhoog te klim. Ek kan dit nie anders as spesiaal beskryf nie.”
Caitlin Erasmus (gr. 12) sê: “Ons is baie opgewonde om daar op te tree. Die Wynand Mouton-teater is ’n bekende verhoog. Ek voel bevoorreg om deel van iets so besonders te wees.”
Volgens me. Chanmari Erasmus, drama-onderwyser, kan ’n skoolsaal nooit die kreatiewe proses en uiteindelik die produk so volledig laat voel soos ’n teater nie. “Daarom sorg die Wynand vir ’n ongelooflike teaterervaring. Dis ook ’n groot prikkel vir jong opkomende teatermakers, akteurs en klank-en-beligting tegnici.”
■ ’n Klompie topgehalte produksies speel ook op hierdie verhoog tydens die Vrystaat Kunstefees (15-19 Julie) – “Speelgoed van glas”, “Marion Monroe”, “Kruispad of Die legende van die goue vis”, “Annie+Helen” en “Magda en haar Erhard, how Louw can you go?”