Centurion Cantus is ‘n gemeenskapskoor wat bestaan uit doodgewone mense van verskillende ouderdomme, beroepe en vaardighede wat een groot vreugde deel. Die koor is in 1985 gestig en bestaan vanaf 2007 in sy huidige formaat. Vanaf 2007 tot en met 2019 was daar elke jaar ‘n Lentekoorfees aangebied en oor die tydperk was Centurion Cantus die gasheer vir ‘n verskeidenheid van wonderlike kore plaaslik
en verder. Die Wêreld Koorspele wat gedurende 2018 in Suid Afrika aangebied was, was ‘n hoogtepunt in die geskiedenis van Centurion Cantus. Die Passiespel waarmee die koor tans besig is, is vir die meeste koorlede ‘n eerste ondervinding in karakterisering en dramatiese vertolking, ‘n eerste in die geskiedenis van Centurion Cantus en voorwaar nog ‘n hoogtepunt. Daar word jaarliks oefennaweke en koorkampe gereël asook van tyd tot tyd ‘n lekker koortoer. Die weeklikse oefeninge vind plaas op Sondagmiddae in die kerkgebou van die Gereformeerde Kerk Centurion en elke koorlid sal kan getuig dat koorsang ‘n bekostigbare, gesonde en prettige manier is om jou gereelde ontspanning in te kry.