28/09/2026
‘𝗻 𝗣𝗹𝗮𝗻𝘁𝘁𝘆𝗱 𝘀𝗸𝗶𝗲𝘁𝗴𝗲𝗯𝗲𝗱 𝘃𝗶𝗿 ‘𝗻 𝗩𝗿𝘆𝘀𝘁𝗮𝗮𝘁𝘀𝗲 𝗕𝗼𝗲𝗿
Blitsvinnig lig jy jou gunsteling breërandhoed op
en steek ‘n growwe hand in my rigting.
Jy groet my ordentlik met ‘n ferm handdruk,
sommer ook ‘n soengroet op die wang vir goeie mate,
en volg dit op met ‘n hartlike “Goeiemiddag, Nooi!”.
Opregte plattelandse vriendelikheid
weerspieël vandag weer in oorvloed op jou gesig.
Jy is darem maar die toonbeeld van ‘n Vrystaatse boer
wat aanmekaargeweef is in ‘n plattelandse millieu
met hoofsaaklik godvresenheid, integriteit en goeie maniere.
Op ‘n geut net bokant jou kop sit die stoep-swaeltjies en kwetter
asof hulle die plantseisoen amptelik met jou aankoms aankondig.
“Die son is ongenaakbaar dié tyd van die jaar,
veral wanneer sy soos nou op haar hoogste is
en reënwolke vêr is”.
Een kyk na die Olienhoute en Karees se byna verlepte blare
en die muurhorlosie se wysers
wat stadig tussen een en twee kloksgewys beweeg,
word jou woorde een tik, een tok op ‘n slag beaam.
Sonder om onnodiglik tyd te mors,
nooi ek jou na binne vir ‘n ‘n welverdiende breek
met die belofte van ‘n lekker koppie boeretroos en lemoenbeskuit.
‘n Bederf reguit vanuit die spens.
Nét soos die plattelandse gentleman wat jy is,
steek jy eers by die voordeur vas,
skop jou DKWs netjies langs die kleurvolle “Welkom”-matjie uit
en stof jou werksklere af met ‘n splinternuwe sakdoek vanuit Bloemfontein.
Kort voor lank fluit die ketel luidkeels vanuit die kombuis
en sit ons twee in die sitkamer duskant van mekaar
op riempiestoele wat stywer gespan is as ‘n snaar.
Ons gesprek vloei soos die Oranjerivier:
Sterk en vertak elke kort-kort na ‘n nuwe gebied.
Eers van grondontleding na vogbewaring,
toe na saad, plaagbestuur en landbou-implemente.
Ons gesprek loop droog iewers tussen
vinnig veranderende produksieplanne en insetbegrotings.
Alles danksy ‘n super El Niño-waarskuwing,
tans een van die ‘26/27 plantseisoen se grootste bedreigings.
Ongemaklik bieg jy:
“Deesdae voel dit asof ek heeltyd die boerdery op ‘n naaldpunt moet balanseer,
asof ek op die drumpel van ‘n katastrofe bly staan”.
Jy wonder daarna ook hardop oor die biografie van ‘n Vrystaatse boer
en wat historici oor ‘n honderd jaar van nou af sal bestudeer.
Met opregte kameraderie,
twee leë koppies en beskuitkrummels tussen ons,
wens ek heimlik dat ek vir jou ‘n regstegniese antwoord gehad het.
Ek trek eerder my Bybel nader om jou te herinner aan ‘n belofte in Romeine 8:28:
“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk
vir dié wat Hom liefhet,
dié wat volgens Sy besluit geroep is.”
Hou asseblief vas aan dié belofte tydens die plantseisoen
en onthou my volgende woorde op pad terug na jou lande toe:
Jy is ‘n Vrystaatse boer in murg en been.
Lig jou kop op,
trek jou skouers terug.
en druk jou bors uit.
Die Here het jou volgens Sy plan in die Vrystaat geplant
en aan jou gekweek vir omstandighede net soos dié.
Indien nodig, belowe ek om jou weer te herinner.
Ek belowe ook om mooi verby die plafon te mik
elke keer wanneer ek vir jou ‘n skietgebed
tydens dié plantseisoen opstuur.
Elkeen sal begin met wense
vir voorspoed,
seën
en goeie somerreën.
- Monique Jansen van Vuuren, September 2026