05/09/2026
Op 5 September 1900 het Danie Theron, een van die bekendste Boereverkenners van die Anglo-Boereoorlog, op slegs 28-jarige ouderdom, gesneuwel.
Net buite Fochville, op die pad tussen Johannesburg en Potchefstroom hoog teen 'n rant, staan sy monument.
Danie Theron sal deur latere geslagte onthou word as die stigter van die Theron Verkenningskorps (TVK). Hulle het onder meer per fiets verkenningswerk gedoen en inligting oor die Britse magte ingesamel.
Hy is op 9 Mei 1872 op Tulbagh gebore. Hy het as onderwyser gekwalifiseer en in Kroonstad skoolgehou. Kort daarna het hy hom as prokureur bekwaam en sy eie praktyk in Krugersdorp geopen. Dit is ook hier waar hy op Hannie Neethling verlief geraak het. Hulle het verloof geraak, maar Hannie is in Augustus 1898 aan longontsteking oorlede en op haar familieplaas, Eikenhof, begrawe.
Gedurende die oorlog het Danie en sy span verkenners herhaaldelik met groot dapperheid aan gevegte deelgeneem. Sy dapperheid het hom egter op 5 September 1900 sy lewe gekos. In die Gatsrand, die gebied waar die Danie Theron-monument vandag verrys, het Danie ’n Britse konvooi verken en besluit om ’n lokval daarvoor te stel. Hy is egter deur vier Britse verkenners verras. Die koppie waarop Danie opgemerk is, is met kanonvuur bestook en Danie is noodlottig gewond.
Danie, die dapper held, is later langs sy geliefde Hannie ter ruste gelê — net soos hy dit gewens het.
Vandag herinner die Danie Theron-monument aan hierdie dapper kryger. Volgens die gedenkplaat aan die voet van die monument simboliseer die vlam aan die punt van die gedenknaald die vlam van vryheid wat in die harte van Danie Theron en die Boere gebrand het wat hul vryheid, onafhanklikheid en Vierkleur verdedig het.
By die Orania Bewaringstigting bewaar ons verhale soos dié omdat geskiedenis nie net in monumente en gedenknaalde leef nie, maar ook in die mense, offers en ideale wat daaraan betekenis gee. Deur hierdie verhale te onthou en oor te dra, help ons om ons erfenis vir volgende geslagte lewend te hou.